Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 13 SEPTEMBER 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za. Klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie, en vorige bulletins, kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat die afsterwe van Nico Smit, ZS6ATP, van Pretoria na 'n lang siekbed aangekondig moet word. Ons betuig ons innige meegevoel met sy vrou, familie en vriende.

(Pouse)

In die nuus vandag:

SUMBANDILASAT GEREED VIR LANSERING

SARL, SCI-BONA EN DIE GAUTENG DEPARTMENT VAN ONDERWYS TEKEN ’N MEMORANDUM VAN OOREENKOMS

SARL- EN OKOSAVERGARDERING

HAMNET AKTIWITEIT IN EKURHULENI

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SUMBANDILASAT GEREED VIR LANSERING

SumbandilaSat is geskeduleer om oor twee dae vanaf Baikonur in Kazakhstan gelanseer te word. SA AMSAT se webwerf by www.amsatsa.org.za sal opgedateer word soos inligting beskikbaar word. Daar is ’n mooi foto wat die satelliet op die lanseringsplatform gemonteer reg onder die hoofloonvrag toon.

SARL, SCI-BONA EN DIE GAUTENG DEPARTMENT VAN ONDERWYS TEKEN ’N MEMORANDUM VAN OOREENKOMS

SARL-President, Rassie Erasmus, het Vrydag ’n memorandum van ooreenkoms met die Sci-Bona Wetenskapontdekkingsentrum en die Gauteng Department van Onderwys onderteken om die bekendstelling van amateurradio as ’n kurrikulumvak in grade 10 -12 van tegnologiese hoërskole te fasiliteer. Dit sal in 2010 in 25 Gautengse hoërskole geloods word. Leerders sal werk om ’n ZU-lisensie te verwerf. Die SARL werk saam met die department en Sci-Bona om ’n modulestelsel te ontwikkel wat die Klas B sillabus sal dek.
’n Aantal onderwysers is alreeds opgelei en het Vrydag die Klas A eksamen afgelê. As deel van die projek word daar gepoog om die loodsskole toe te rus met amateurradiostasies waarmee leerders die praktiese aspekte van amateurradio kan leer. Verdere besonderhede sal in toekomstige SARL-nuusberigte verskyn.

SARL- EN OKOSAVERGADERING

Verlede Dinsdag het die eerste van die gereelde kwartaallikse koördineringsvergaderings tussen OKOSA en die SARL by die kantore van die owerheid plaasgevind. Hierdie vergadering het lank geneem om verwesenlik te word aangesien die basiese ooreenkoms om ’n permanente skakelkomitee te stig alreeds in Februarie 2008 bereik is. Die SARL was deur Hans van de Groenendaal, ZS6AKV, en Mark Zank, ZS6YES, verteenwoordig.
’n Aantal sake rakende amateurradio was bespreek en sal verder behandel word tydens die volgende vergadering in November. OKOSA het die SARL ingelig dat hulle werksaam is aan hersiening van die radioregulasies as deel van ’n projek om die regulasies in lyn te bring met die elektroniese kommunikasiewet. Die SARL sal binne die volgende paar maande geleentheid kry om kommentaar op die nuwe voorstelle te lewer wanneer dit openbaar gemaak word.
Oor die kwessie rondom lisensiefooie neem OKOSA kennis van die SARL se besware en voorstelle maar geen finale besluit is nog geneem oor die herstrukturering van lisensiefooie nie. Die voorstelle is nog in die komiteestadium.
Suid-Afrikaners sal binnekort toegang kry tot die LF-spektrum van 135,7 tot 137,8 kHz. OKOSA het ingestem om die WRC07-voorstelle te implementeer en het die proses begin om dit in die Staatskoerant te publiseer.
OKOSA het ’n voorstel deur Mark Zank aanvaar dat alle dokumente en afskrifte van dokumente voortaan deur die SARL waargemerk sal word deur die gebruik van ’n veilige embosseringstempel. OKOSA het versoek dat die SARL ’n prosedure uitwerk om te verseker dat slegs egte dokumentasie voorgelê sal word as deel van die lisensieëringsreëlings.

HAMNETAKTIWITEIT IN EKURHULENI

Amateurradio lewer ’n bydra tot die “Stap teen Misdaad” in Eastleigh, Edenvale.
Die geleentheid was gereël deur Edenvale SAPD en Mumba Sekuriteit in samewerking met Hamnet-Suid Gautengstreek en Rampbestuur Spesialis-kommunikasievrywilligers. Die stap het by die Eastleigh Spar begin. Devan, ZR6DAN, Mario, ZU6TAN, en Stephen, ZS6SKY, het die eenhede verteenwoordig en alle kommunikasie by die geleentheid gehanteer terwyl Howard, ZS6ZS, in verbinding was met die lede vanaf ’n basisstasie vir bystandkommunikasie, indien nodig.
Inspekteur Jean Okkers van Edenvale se SAPD en verskeie ander SAPD-lede, insluitend die stasiebevelvoerder en hoof van die GPF, Mumba Sekuriteitslede en STS-lede het erkenning verleen aan die vermoë van die eenhede om behulpsaam te wees met bevel en beheer van die geleentheid. Dit is ’n jammerte dat die geleentheid deur die publiek swak ondersteun was, maar beter advertering sal gedoen word vir die volgende geleentheid. Inspekteur Okkers van die Edenvale SAPD het die lede teenwoordig geprys en was beïndruk deur die professionele en gladde hantering van die geleentheid. Hy het die lede bedank vir hul tyd en toewyding en sal nog belangstellendes verwelkom. Lede is gereeld betrokke by gemeenskapsgeleenthede.
Hamnet Suid-Gauteng en Ekurhuleni Rampbestuur Spesialiskommunikasievrywilligers sal ’n opleidingsoefening bekend as “Hurry up and Wait” op Saterdag 19 September 2009 hou.
Die geleentheid word gereël deur lede van die eenhede om hul gereedheid om te ontplooi en mobiele en veldstasies te aktiveer ter voorbereiding vir die 2010 wêreldbekeraktiwiteite.
Amateurs word genooi om die plaaslike herhalers te monitor, maar word ook versoek om nie die uitsendings te steur nie. Daar sal vreemde uitsendings gemaak word en luisteraars word versoek om nie die plaaslike owerhede daaroor te bel nie. Hulle is ingelig en sal ook deelneem aan die oefening.
Belangstellende amateurs kan vir Howard Ware, ZS6ZS, kontak op 083-258-5045 of per e-pos na seclex@gmail.com.

KOMPETISIENUUS

Die Lente QRP-naelloop is vanmiddag, 13 September, vanaf 14:00 tot 16:00 SAT op die lug met GG- en foonaktiwiteit in die 40 meterband. 'n RS(T)-verslag en die jaar van eerste lisensie word uitgeruil. Probeer om Suid-Afrika te werk met die laagste kraguitset wat u radio het.

Die voorlopige uitslae van die SARL-HF-foonkompetisie sal eersdaags bekend gemaak word. Van die logs wat ontvang is, is nie volgens Reel 4 van die Algemene Reels nie. Na bespreking met die Raad van die SARL, is besluit om die betrokke radioamateurs te vra om hulle logstate reg te stel en weer in te stuur, of die logs word as kontrolelogs herklassifiseer.

Die tweede been van die SARL BHF/UHF-kompetisie sal volgende naweek 18 tot 20 September op die lug wees. Daar is twee kompetisies daardie naweek - die digitale kompetisie begin Vrydagaand 18 September en eindig Sondag 20 September, terwyl die analoogkompetisie op Saterdag 19 en Sondag 20 September plaasvind.
Die reels is beskikbaar in die 2009 SARL-kompetisiehandboek wat by www.sarl.org.za afgelaai kan word.

Vir die Erfenisdagnaelloop op 24 September 2009 is die frekwensies wat gebruik mag word 7,000 tot 7,025 MHz vir gelykgolf en 7,060 tot 7,100 MHz en 7,130 tot 7,200 MHz vir spraak.
Logstate moet gestuur word aan Die Sasolburg Amateurradioklub, ZS4SRK, Posbus 28194, Sonlandpark, 1944, of per e-pos aan riaanzs4pr@gmail.com.
Die sluitingsdatum vir die indien van logstate is 6 Oktober 2009.

KLUBNUUS
Tydens die AJV van die Bloemfontein Radioamateurklub gehou op 5 September, is die volgende komitee verkies:
Voorsitter: Andre van Rensburg, ZS4APA;
Ondervoorsitter: Martin Schwella, ZS4MS;
Tesourier: Hennie Greyling, ZS4HG;
Sekretaresse: Reinette Esterhuizen, ZU4R;
Lede: Victor Reitz, ZS4VR, en Deric Smith, ZS4OH.
Dennis Green, ZS4BS, is bedank vir sy 20 jaar diens op die komitee van die ou Bloemfonteintak en Bloemfontein RAK.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds op 'n laagtepunt is. Tans is daar geen amptelike sonvlekke nie.
20 en 40 m is die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na die Ooste en die Weste goed wees. Gedurende laatmiddag en die aand gaan toestande na die Noorde goed wees. Gedurende die oggend is daar 'n moontlike kans om kontakte met Australië te maak. Gedurende die aand is kontakte met Nieu-Zeeland op 40 m moontlik. Gedurende die aand is daar ook 'n moontlikheid van 40 m-kontakte met Brasilië. Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande lewer.
Saans is 80 m die beste keuse.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
13 September -QRP-lentenaelloop;
15 September - Lansering van SumbandilaSat;
18 tot 20 September - SARL-BHF/UHF-kompetisies;
19 September - Hamnet Gauteng-Suid en Ekurhuleni Rampbestuur Spesialiskommunikasievrywilligers opleidingsoefening;
24 September – Erfenisdagnaelloop;
24 September - Inskrywings vir Oktober RAE moet in wees.
06 Oktober – Logstate vir Erfenisdagnaelloop moet in wees na riaanzs4pr@gmail.com.

SARL-Nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Plaas nuusberigte, indien moontlik, in beide Afrikaans en Engels alleenlik op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n podcastuitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Roger ZR3RC opgestel en deur George, ZS6NE, geredigeer is.

Dankie dat u geluister het. 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003